Kaufman v Standardbank Van Suid-Afrika Bpk (316/1993) [1994] ZASCA 107 (8 September 1994)


Saaknommer 316/93 /wlb

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUIDAFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

PIETER WILLEMKAUFMAN Appellant

en

DIE STANDARDBANK VAN SUID-AFRIKABEPERK

Respondent

CORAM: HEFER, VIVIER, F H GROSSKOPF, NIENABER et

HARMS ARR VERHOORDATUM: 19 Augustus 1994 REDES INGEDIEN: 8 September 1994

R E D E S

NIENABER AR/

2

NIENABER AR:

Die appellant se boedel is op aandrang van die respondent op 26 Junie 1990 voorlopig en op 27 Febmarie 1992 Gnaal in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling gesekwestreer. Teen laasgenoemde bevel het die appellant na hierdie hof geappelleer. Sy appèl het gepaard gegaan met 'n aansoek om kondonasie vir 'n reeks tekortkominge in die voorbereiding en voorlegging van die appèl-stukke. Die aansoek om kondonasie is deur die respondent teengestaan. Na oorweging van die betoë is die aansoek om kondonasie op 19 Augustus 1994 deur hierdie hof geweier, om redes wat mettertyd verstrek sou word. Wat nou volg, is die beloofde redes. Voortaan word na die appellant as die applikant verwys.

Om die aansoek beter te kan begryp, sou dit van nut wees, meen ek, om iets van die agtergrond te verstrek. Agtergrond is daar oorgenoeg. Die oorkonde alleen beslaan oor die duisend bladsye. Maar vir huidige doeleindes kan met die volgende hooftrekke volstaan word: 1 Die applikant is 'n sakeman wat hoofsaaklik in die drankhandel doenig

3

was, met bates - veral woonerwe, vakansiepersele, industriële- en landbouhoewes en plase - maar ook laste wat miljoene rande bedra het.

2 Op 8 Mei 1990 verkry die respondent summiere vonnis

(i) teen P W V Liquor Wholesaler Distributors (Edms) Bpk as eerste verweerder en teen die applikant as tweede verweerder, gesamentlik en afsonderlik, vir betaling van die bedrag van R563 396,54 tesame met rente en koste; en

(ii) teen die applikant alleen vir betaling van R366 847,26 tesame met rente en koste.

  1. P W V Liquor Wholesaler Distributors (Edms) Bpk was 'n maatskappy wat deur die applikant besit en beheer is. Die maatskappy is op 12 Junie 1990 voorlopig gelikwideer.

  2. Die vonnis teen die applikant lei tot 'n lasbrief wat op sy beurt 'n nulla bona-relaas oplewer, die geldigheid waarvan deurgaans tydens hierdie verrigtinge in geskil was.

4

  1. Op 26 Junie 1990 word die applikant se boedel in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling voorlopig gesekwestreer. Die bevel is op die nulla bona-relaas gegrond.

  2. Eers op 9 Augustus 1990 word díe voorlopige sekwestrasiebevel aan

die applikant beteken. (In die stukke word daar gesuggereer dat hy betekening doelbewus probeer ontduik het.)

7 Bekragtiging van die voorlopige sekwestrasiebevel is deur die
applikant teengestaan. Dit lei tot nie minder nie as vyf stelle
eedsverklarings.

8 In die ïoop van verwisseling van die eedsverklarings het NedPerm
Bank Bpk ("NedPerm") aansoek gedoen om tussenbeide te tree.
NedPerm se eis het Rl 211 416,90 bedra. NedPerm het insgelyks
aangedring op die finale sekwestrasie van die applikant se boedel. 'n
Verdere drie stelle eedsverklaringe is in dié aansoek geliasseer.

9 Toe die aansoeke om bekragtiging van die bevel uiteindelik op 27
Februarie 1991 voor McCreath R in die Witwatersrandse Plaaslike

5

Afdeling dien, is 'n skikking tussen die applikant, die respondent en NedPerm bereik. Hierdie skikking is 'n bevel van die hof gemaak. In breë trekke het dit daarop neergekom dat die voorlopige sekwestrasiebevel verleng word; dat 'n aantal geselekteerde onroerende eiendomme van die applikant te gelde gemaak word; dat indien dit genoeg oplewer om die eise van sekere omskrewe skuldeisers te delg, die bevel opgehef word, maar indien nie, dat die applikant dan "unconditionally withdraws his opposition in this matter and the provisional sequestration order granted herein shall be confirmed".

  1. Die keerdag van die voorlopige sekwestrasiebeveï is na aanleiding van hierdie ooreenkoms telkens verleng.

  2. Op 6 Desember 1991 is die kwessie opnuut beredeneer toe daar, aan die hand van verdere eedsverklaringe wat aan beide kante geliasseer is, namens die respondent aansoek gedoen is om bekragtiging van die sekwestrasiebevel en namens die applikant om 'n verdere verlenging

6

daarvan. Die keerdag is tot 25 Februarie 1992 verleng met 'n aanduiding deur die hof dat dit 'n finale uitstel sou wees.

  1. By dié geleentheid het die respondent, aan die hand van nog 'n verdere eedsverklaring, opnuut aangedring op bekragtiging van die voorlopige sekwestrasiebevel terwyl daar namens die applikant, aan die hand van 'n verdere eedsverklaring wat namens hom geliasseer is, gevra is vir die ophefGng daarvan.

  2. Op 27 Februarie 1992 lewer Myburgh R uitspraak. Met inagneming van die bepalings van die vorige hofbevel en sy eie siening van die stand van die applikant se bates en laste op daardie tydstip, bekragtig hy die voorlopige sekwestrasiebevel.

Kragtens artikel 150 van die Insolvensiewet 24 van 1936 was die applikant sonder meer geregtig om by hierdie hof teen daardie bevel te appelleer (Fourie v Drakensberg Koöperasie Bpk 1988(3) SA 466 (A); Nahrungsmittel GmbH v Otto 1993(1) SA 639 (A)). (Die artikel is sedertdien deur artikel 1 van Wet 129 van 1993 gewysig.) Na regte en

7

indien hy die saak reg ingesien het, moes die applikant se regsverteenwoordiger:

  1. ooreenkomstig Appèlhofreël 5(1) binne 20 besigheidsdae na 27 Februarie 1992 d.w.s. voor of op 26 Maart 1992 'n kennisgewing van appèl by die griffier van hierdie hof en die griffier van die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling ingedien het en 'n afskrif aan die respondent se prokureur beteken het;

  2. ooreenkomstig Appèlhofreël 5(3)(b) binne 20 besigheidsdae daarna d.w.s. voor of op 24 April 1992 by die griffier van hierdie hof 'n volmag ingedien het wat hom magtig om die appèl voort te sit;

  3. ooreenkomstig Appèlhofreël 5(4)(c) binne 3 maande vanaf 27 Februarie 1992 d.w.s. voor of op 27 Mei 1992, die voorgeskrewe aantal afskrifte van die oorkonde van die verrigtinge by die griffier van hierdie hof en die respondent se prokureur ingedien het.

Die applikant en sy span, soos trouens ook die respondent en die hof a quo, was van gemeïde artikel 150 klaarblyklik onbewus. En dit lei tot

8

die volgende abortiewe gebeure:

  1. Op 2 April 1992, vyf weke nadat uitspraak gelewer is, gee die applikant kennis van sy voomeme om by die hof a quo aansoek te doen om verlof om teen die hof a quo se uitspraak te appelleer. Daardie aansoek was op sigself laat. Ingevolge Hooggeregshofreël 49(l)(b) moes sodanige kennis binne 15 dae vanaf die datum van die uitspraak waarteen geappeller word, gegee gewees het.

  1. Op 21 Mei 1992 weier Myburgh R sodanige verlof.

  1. Volgens die applikant se eie siening, naamlík dat verlof om te appelleer wel nodig was, sou hy kragtens artikel 21(2) van die Wet op die Hooggeregshof 59 van 1959 binne 21 dae vanaf die datum waarop verlof geweier is, 'n petisie vir verlof om te appelleer by die griffier van hierdie hof moes indien. ('n Afskrif van die petisie moes, ooreenkomstig Appèlhofreël 3(3), ook aan die respondent se prokureurs beteken word.)

  1. 'n Petisie vir voorlegging aan die hoofregter word inderdaad ingedien,

9

maar dit was weereens nie betyds nie. Gevolglik gaan dit gepaard met 'n aansoek om kondonasie vir die laat-liassering daarvan. Die petisie en kondonasie-aansoek is gedateer 7 September 1992. Dit word op 10 September 1992 aan die respondent se prokureur beteken, maar eers op 2 Oktober 1992 by hierdie hof geliasseer d.w.s. sewe maande in plaas van 21 dae nadat verlof deur die hof a quo geweier is. Volgens die aansoek om kondonasie was die vertraging te wyte aan probleme wat die applikant ondervind het om "offisiële" afskrifte van Myburgh R se twee uitsprake te bekom.

  1. Die aansoek om verlof en kondonasie word deur die respondent teengestaan, hoofsaaklik op grond daarvan dat die voorgenome appèl weinig vooruitsig op sukses sou hê.

  2. Op 2 November 1992 en na aanleiding van die voormelde petisie stuur die griffier van hierdie hof 'n faks aan die partye wat soos volg lui:

"Die voorsittende regter versoek soos volg:

  1. Verlof om te appelleer is nie nodig in hierdie geval nie. (Kyk: Fourie v Drakensberg Koöperasle Bpk 1988(3) SA 466 (A).)

  2. Die partye word versoek om geskrewe submissies voor of op 18

10

November 1992 by die griffier van hierdie hof in te dien m.b.t. die volgende aspekte:

  1. Die bevel van die hof a quo van 21 Mei 1992 waarvolgens verlof om te appelleer met koste geweier is.

  2. Die koste verbonde aan die volgende:

 

  1. aansoek om kondonasie;

  2. petisie om verlof om te appelleer;

  3. respondent se beantwoordende verklaring."

7 Skriftelike submissies is inderdaad namens die onderskeie partye ingedien waaruit blyk dat beide partye aanvaar dat die aansoek om verlof voor Myburgh R, die applikant se daaropvolgende petisie en die respondent se teenstand alles oorbodig was.

In die lig van hierdie verwikkeling moes die applikant vroeg in November 1992 besef het dat hy reeds 'n kwessie van sewe maande laat was met sy kennisgewing van appèl, ses maande met sy volmag en vyf maande met die indiening van die hofrekord. Hy was geroepe om sy foute summier reg te stel en om 'n kondonasie-aansoek te rig (vgl Ferreira v Ntshingila

11 1990(4) SA 271 (A) 281 D-E;Rennie v Kamby Farms (Pty) Ltd 1989(2) SA 124 (A) 129G). Inderdaad doen hy nóg die een nóg die ander.

In sekere opsigte heí die applikant wel betreklik flink gereageer:

  1. Op 19 November 1992 onderteken hy 'n kennisgewing van appél wat op 2 Desember 1992 aan die respondent se prokureur beteken word. Dit word egter nie tegelykertyd by die griffier geliasseer nie.

  2. Op 22 November 1992 onderteken hy 'n volmag waarkragtens hy mnre C W Malan en Kie van Joubertina en Webbers van Bloemfontein magtig om sy appèl namens hom te behartig. Weereens word die volmag nie by die griffier van hierdie hof geliasseer nie. (Op 8 Junie 1993 word 'n verdere volmag opgestel, dié keer onderteken namens die Bloemfonteinse prokureurs, Webbers, waarin twee verdere stelle prokureurs namens die applikant gemagtig word om die appèl te behartig.)

12

3 Op 5 Desember 1992 onderteken die applikant 'n dokument getiteld "petisie", waarna ek as "die eerste kondonasie-aansoek" sal verwys, waarin die applikant verskoning aanteken vir sy onkunde aangaande die korrekte prosedure en sy gevolglike versuim om die kennisgewing van appêl, volmag en oorkonde betyds in te dien. Hy voer aan dat die vertraging in die voortsetting van die appèl nie aan nalatigheid aan sy kant te wyte was nie en dat hy "onmiddellik aan sy regsverteenwoordigers opdrag gegee het, toe hy bewus geraak het van die omstandighede, om die nodige stappe te doen om die posisie reg te stel." Voorts gaan hy redelik uitvoerig op die meriete van die saak in en beweer hy dat hy van voomemens is om aansoek te doen "om verlof om verdere getuienis voor die hof van appèl te plaas ten opsigte van die omvang en waarde van sy boedel soos dit op 26 Junie 1990 was." Hy vra kondonasie vir sy versuim ten opsigte van die nie-tydige

13

liassering van 'n kennisgewing van appêl, 'n volmag en die nodige kopieë van die rekord van die verrigtinge voor die hof a quo.

Op sy minste skep dié bedes die indruk dat die kennisgewing van appèl, die volmag en die nodige kopieë van die hofrekord óf reeds ingedien óf op die punt was om ingedien te word. In werklikheid was die oorkonde nie naastenby vir indiening gereed nie. Gevolglik kon hy die kondonasie-aansoek nie by die griffier van hierdie hof liasseer nie want hy kon kwalik kondonasie vra vir 'n ellelange versuim wat nog nie herstel was en, sonder gegronde verskoning, nie binne afsienbare tyd herstel sou word nie.

Desondanks word die aansoek om kondonasie op 9 Desember 1992 aan die respondent se prokureurs beteken, sonder om hulle te verwittig dat die applikant dit nie by die griffier ingedien het en nie van plan was om dit eersdaags te doen nie. Ongetwyfeld het hy daardeur by die respondent

14

se prokureur die indruk verwek dat alle formele gebreke reeds aangesuiwer ís en dat daar gevolglik net vir die toekenning van 'n verhoordatum ooreenkomstig Appèlhofreël 7(1) gewag word.

Eers op 22 Junie 1993, ses en 'n half maande later, word die volgende dokumente by die griffier van hierdie hof ingelewer:

  1. die kennisgewing van appèl gedateer 19 November 1992;

  2. albei volmagte, onderteken op 22 November 1992 en 8 Junie 1993 onderskeidelik;

  3. die oorkonde van die verrigtinge;

  4. 'n verdere sg petisie, waarna ek as "die tweede kondonasie-aansoek" sal verwys, waarin die applikant poog om sy versuim te verduidelik. Die verduideliking is dat daar met die voorbereiding van die hofrekord probleme ondervind is. Dié probleme word in 'n eedsverklaring van sy destydse prokureur, mnr F J van Rensburg van die firma Moodie,

15

Moodie & Van Rensburg van Boksburg, soos volg toegelig:

"6. Nadat opdrag ontvang is om die Hof Rekord voor te berei het ek persoonlike opwagtings by die Griffier van die Hooggeregshof Witwatersrand Plaaslike Afdeling gemaak en is teïkemale meegedeel dat die Hoflêer nie beskikbaar is nie en eers gedurende Februarie 1993 was 'n lid van my personeel in staat om die Hoflêer op te spoor in die kantore van die Griffier. Op daardie stadium was die Hoflêer onvolledig en was ons kantoor aangewese op die stukke soos in bcsit van die Appellant, wie op daardie stadium reeds in Joubertina woonagtig was.

7. 'n Pro-forma Hof Rekord is voorberei en op die 10de Maart 1993 voorgelê aan die Appellant se Bloemfontein Prokureurs, waarop daar kommentaar gelewer is dat die Hof Rekord soos gemaak is van die dokumente gelíasseer in die Hof a quo nie aanvaarbaar is vir doeleindes van die Appèlhof nie."

(Ek kom later op hierdie verduideliking terug.)

Op 11 Julie 1994 word 'n derde petisie, getiteld "Aanvullende

Petisie", waarna ek as "die derde kondonasie-aansoek" verwys, by die griffier

ingedien en op dieselfde datum aan die respondent se prokureur beteken. Dit

word deur Van Rensburg beaam. Hierdie aansoek openbaar 'n prentjie wat

16

nie presies met die vorige verduideliking van Van Rensburg strook nie. Weereens word die probleme met die voorbereiding van die hofrekord beklemtoon. Twee redes word geopper:

  1. die ingewikkeldheid van die rekord; en

  2. die werkdruk waaronder Van Rensburg indertyd verkeer het.

Geeneen van hierdie redes oortuig nie. Wat die eerste betref, was die verrigtinge van aard 'n bestrede aansoek en nie 'n verhoor nie. Weliswaar was daar meerdere stelle eedsverklarings en verskillende verskynings, maar op stuk van sake was die saak op stukke. By elke verskyning was daar eedsverklarings, meestal in volgorde, gedateer en gepagineer. Die voorbereiding van die oorkonde het dus in wese geverg dat die stukke voltooi, gekorreleer, gepagineer en van 'n indeks voorsien moes word. Moontlik moeisaam, moeilik nie. Hoogstens het die uitsprake van die hof a quo ontbreek.

17

Die tweede verduideliking is geen verskoning nie. Volgens die derde aansoek om kondonasie was die rekord reeds op 17 Desember 1992 aan Webbers van Bloemfontein voorgelê wat dit deurgelees en notas aangaande gebreke daarin gemaak het, 'n lys waarvan op 18 Desember 1992 aan Van Rensburg deurgefaks is. Van Rensburg verduidelik dat hy sedert begin Januarie 1993 by die ontwikkeling van 'n eiendomsportefeulje betrokke was "wat dit vir hóm moeilik gemaak het om die appèlrekord voor te berei." Eers op 10 Maart 1993 het hy die defekte met Webbers in Bloemfontein gaan bespreek toe hy 'n sg pro forma-hofrekord aan hulle voorgelê het. Wat met 'n pro forma-hofrekord bedoel word, is nie verduidelik nie. Van Rensburg het dit toe oorweeg om vir 'n firma, Seemac in Johannesburg, wat hom op die voorbereiding van hofrekords toespits, te vra om die hofrekord voor te berei, maar toe dié firma ook sloer, het Van Rensburg dit by hulle gaan afhaal en die hofrekord self voltooi. Presies wanneer hy dit na Seemac

18

geneem het, wal sy reëling met Seemac was en wanneer hy dit by Seemac afgehaal het, word ook nie in die stukke verduidelik nie. Eers vroeg in Junie 1993 is die voltooide rekord by Webbers in Bloemfontein afgelewer waama dit op 22 Junie 1993 by die griffier van hierdie hof ingedien is.

Vir die stelling dat 'n prokureur se onkunde en laksheid nie noodwendig 'n afdoende antwoord bied nie, is daar ruim gesag (vgl Saloojee and another N N O v Minister of Community Development 1965(2) SA 135 (A) 141B-H; Finbro Fumishers (Pty) Ltd v Registrar of Deeds, Bloemfontein and others 1985(4) SA 773 (A) 787 G-H; Rennie v Kamby Farms (Pty) Ltd supra 131 D-E; Ferreira v Ntshingila supra 281C-F; Tshivhase Royal Council and another v Tshivhase and another 1992(4) SA 852 (A) 859E).

In ieder geval was die applikant self ook nie sonder blaam nie.

19 Reeds op 5 Desember 1992 beëdig hy die eerste aansoek om kondonasie met die wete dat daar reeds vir 'n geruime tyd nie aan die hofreëls voldoen is nie. Die verskoning dat hy oor die hofprosedure oningelig was, kon daarna nie meer steek hou nie, in elk geval nie ten opsigte van die kwessies wat in daardie aansoek geopper is, naamlik die versuim om die kennisgewing van appel, die volmag en die hofrekord betyds te liasseer nie. Tog openbaar die applikant 'n traak-my-nie-agtige houding. Niks dui daarop dat hy ooit navraag gedoen het oor hoe sake vorder of dat hy sy prokureur aangespoor het om van die saak werk te maak nie. 'n Vergelykbare situasie het hom in Mbutuma v Xhosa Development Corporation Ltd 1978(1) SA 681 (A) voorgedoen. Daar het dit ook om 'n appèl teen 'n finale sekwestrasiebevel na hierdie hof gegaan. Die appèl is, tesame met 'n aansoek om kondonasie, eers 23 maande nadat die finale sekwestrasiebevel verleen is, aangeteken. Die verskoning, vir sover daar wel verskoning vir laks en slordige werk

20 aangebied is, was onder meer: dat die applikant alles aan sy prokureur oorgelaat het wat vanweé werkdrukte aanvanklik nie daarby uitgekom het nie en later probleme ervaar het toe die advokaat wat die stukke moes nagaan, oorsee was of nie die nodige aandag aan die saak gegce het nie. Hierdie hof bevind, met verwysing na Kgobane and another v Minister of Justice and another 1969(3) SA 365 (A) 369B - 370A, dat werkdrukte waaronder 'n prokureur (of advokaat) verkeer, nie 'n aanvaarbare verskoning bied nie (685 B-E). Oor die applikant se eie blaamwaardigheid word gesê (op 686 D-F):

"To sum up in this respect, on the evidence before the Court I am satisfied that, although the applicant was aware in August 1975 that the prosecution of his appeal had already been delayed for about eight months as a result of his attomey's carelessness and inefGciency, he nevertheless allowed the matter to drag on for a further period of seven or eight months before doing anything about it. In my judgment, it cannot be said that the applicant was without blame, for the delay in approaching the Court for condonation must, in the círcumstances, be attributed not only to his attomey's remissness and

21 |

ineptitude, but also to his own indifference and lack of concern." (vgl ook Ferreira & Ntshingila supra 281H). Dieselfde oorweging geld

ook hier.

Na indiening van die rekord in Junie 1993, is 'n verhoordatum toegeken, te wete 19 Augustus 1994. By die verhoor op dié datum is die applikant, soos ook die respondent, deur 'n senior en 'n junior advokaat verteenwoordig. Ter aanvang is daar namens die applikant om kondónasie gevra. Die aansoek is deur die respondent teengestaan en, soos reeds vermeld, terstond deur die hof geweier sonder dat daar enigsins op die meriete van die saak ingegaan is.

Die beginsels wat in 'n aansoek om kondonasie van hierdie aard geld, is in 'n reeks beslissings van hierdie hof uiteengesit. Faktore wat 'n rol speel

"... include the degree of non-compliance, the explanation therefor, the

22

importance of the case, the prospects of succcss, the respondent's interests in the finality of his judgment, the convenience of the Court and the avoidance of unnecessary delay in the administration of justice; ... The cogency of any such factor will vary according to the circumstances, including the particular Rule infringed."

(per Holmes AR in Federated Employers Fíre & General Insurance Co

Ltd and another v McKenzie 1969(3) SA 360 (A) 362 F-G).

Tydens betoog is tereg namens die applikant toegegee dat die verduidelikings wat deur en namens die applikant verstrek is, kwalik die toets wat in die beslissings vir kondonasie gestel is, kan slaag. Maar, so is aangevoer, 'n sekwestrasiebevel behels 'n verandering in status van die applikant wat sy hele toekoms op die spel plaas; die vertragings wat daar was, het die respondent nie ernstig benadeel nie; en die aansoek behoort daarom nie los van die meriete (wat die applikant kwansuis sou begunstig) beoordeel te word nie.

Die eerste twee oorweginge wat vermeld is, naamlik dat die

23

uitkoms van die saak vir die applikant van die allergrootste belang is en dat die respondent nie werklik deur enige vertragings benadeel is nie, het ook in Mbutuma v Xhosa Development Corporation Ltd supra ter sprake gekom.

Aldaar is op 686F - 687A gesê:

"During argument, counsel also referred to the following factors,

namely the importance of the appeal to the applicant, the respondent's

interest in the Gnality of its judgment and the applicant's prospects of

success on appeal. The appeal is, without question, a matter of some

importance to the appellant. The Court must, however, also have

regard to the fact that the respondent has an interest in the finality of

its judgment, as SOLOMON, J.A., pointed out in the following

passage in his judgment in Caims Executors v. Gaam, supra at p.

193:

'When a party has obtained a judgment in his favour and the time allowed by law for appealing has lapsed, he is in a very strong position, and he should not be disturbed except under very special circumstances'.

In this particular instance the Court must also have regard to the fact

that some effect has already been given to the judgment by operation

of the law, namely sec. 150(3) of the Insolvency Act, 24 of 1936,

which reads as follows:

'When an appeal has been noted (whether under this section or under any other law) against a final order of sequestration, the provisions of this Act shall nevertheless apply as if no appeal had been noted: Provided that no property

24

belonging to the sequestrated estate shall be realised without the written consent of the insolvent concerned.'

As a result, the applicant's creditors would at this stage also have an interest in the finality of the judgment and this, in my view, is also a factor militating against the granting of the indulgence. Thus, it is of the greatest importance, not only in the interests of the parties directly concemed, but also in the general public interest, that appeals against orders for sequestration should be prosecuted with due expedition."

Om dieselfde redes is die eerste twee oorweginge ook in hierdie geval nie

deurslaggewend nie.

Wat die derde oorweging (met betrekking tot die meriete van die appèl self) betref, is in P E Bosman Transport Works Committee and others v Piet Bosman Transport (Pty) Ltd 1980(4) SA 794 (A) 799 D-E

gesê:

"In a case such as the present, where there has been a flagrant breach of the Rules of this Court in more than one respect, and where in addition there is no acceptable explanation for some periods of delay and, indeed, in respect of other periods of delay, no explanation at all, the application should, in my opinion, not be granted whatever the prospects of success may be."

25

Dieselfde standpunt is in etlike latere sake gehuldig. In Rennie

v Kamby Farms (Pty) Ltd supra 131 H-J is dit oor die boeg gegooi dat

kondonasie geweier word indien die kumulatiewe effek van die

tekortkominge

"... render the application unworthy of consideration; and that this is a case in which the court should refuse the application irrespective of the prospects of success."

(vgl voorts Tshivhase Royal Council and another v Tshivhase and

another supra 859 E-G; Blumenthal and another v Thomson N O and

another 1994(2) SA 118 (A) 122 A-D).

Die vraag wat hierdie hof moes oorweeg, was of die tekortkominge en vertragings in die onderhawige geval ook so ingrypend was dat die meriete van die dispuut nie ter sprake gekom het nie. Ongetwyfeld is die prentjie wat die voorgaande relaas openbaar, 'n toonbeeld van onkunde en laksheid. Omtrent niks is betyds gedoen nie. Elke stap was

26

amper stelselmatig laat. Maande het op 'n keer verloop sonder dat iets gedoen is. Die verduidelikings wat wel verstrek is, was karig en onbevredigend. Sommige vertragings word glad nie verduidelik nie. Volgens die eerste aansoek om kondonasie was die aanvanklike vertragings te wyte aan blote onkunde aan die kant van die applikant en sy regsverteenwoordiger wat gemeen het dat 'n petisie om verlof om te appelleer nodig was. Selfs al word hierdie verduideliking aanvaar, verskoon dit nie die lang vertraging alvorens die petisie om verlof wel ingedien is nie. In elk geval verduidelik dit nie die vertraging nadat die ware toedrag van sake op die lappe gekom het níe. Op daardie stadium was díe appiikant en sy regsverteenwoordiger terdeë bewus van die dwingende noodsaak om met ywer op te tree ten einde vir die vertraging wat aan hul onkunde te wyte was, te vergoed. Desondanks is daar steeds geen teken van enige besondere toewyding aan die kant van óf die applikant óf sy regsverteenwoordiger nie.

27

Die verduidelikings wat vir die verdere versuim verstrek word, is so onbevredigend as om verdag te wees. Geen verduideliking word bv verstrek van hoekom die petisie aan die teenkant beteken is, terwyl dit nie terselfdertyd by die hof geliasseer is nie. Mens kan oor die rede spekuleer, maar by ontstentenis van 'n pertinente verduideliking skep dit op sy ergste die indruk van 'n moedswillige, en op sy beste die indruk van 'n totaal onverskillige houding. Die saak sloer reeds sedert 26 Junie 1990 toe die appellant se boedel voorlopig gesekwestreer is. Om na die ontdekking van die ware toedrag van sake 'n verdere sewe maande te wag alvorens die rekord ingedien en die stukke agtermekaar gekry is, was so laks en so ongeërg as om aan minagtende optrede te grens.

Word die patroon en die kumulatiewe effek van die agtelosigheid en knoeiwerk wat hierbo beskryf is in ag geneem, gepaard met onvoldoende verskonings in sommige gevalle en 'n afwesigheid van enige verduidelikings

28 in ander, het mens na my mening ook hier met 'n geval te doen waar daar nie 'n genoegsame saak uitgemaak is vir tegemoetkoming van die applikant nie; anders gestel, dat die geval, in die lig van die mate van laakbaarheid in die optrede van die applikant en sy regsverteenwoordigers, nie die gunstige aandag van hierdie hof waardig is nie - en dat die meriete van die geskil tussen die partye dus nie daarop aankom nie.

Om bogemelde redes is die aansoek om kondonasie op
19 Augustus 1994 met koste van die hand gewys, wat die koste van appèl en
die koste van twee advokate insluit. Dit impliseer noodwendig dat die appèl
verval.

P M NIENABER AR

HEFER AR ]

VIVIER AR ]

F H GROSSKOPF AR ] Stem saam,

HARMS AR ]

▲ To the top

Cited documents 1

Legislation 1
  1. Insolvency Act, 1936

Documents citing this one 0